Christofh Willibald Gluck

Portret van Christoph Willibald Gluck

Die komponis Christoph Willibald (von) Gluck (2 Julie, 1714 - 15 November, 1787) is van groot belang as hervormer van die opera. Hy het met die Italiaanse opera seria, waarin die rol van 'n sanger alles oorheersend geword het, gebreek en 'n streng klassieke operavorm geskep.

Christoph Willibald (von) Gluck is in Erasbach (Oberpalz) gebore as die seun van 'n bosbouer. Waar en by wie hy sy heel eerste musiekonderrig ontvang het, is nie bekend nie. Hy moet sy vaardigheid om verskillende instrumente te bespeel in die dorpskool en herberg bekom het, want met sy vertrek in 1731 na Praag om hom, teen die wil van sy vader, aan musiek te wy, kon hy as musikant 'n bestaan maak.

In 1736 was Milaan sy eerste belangrikste standplaas waar hy aan die huiskapel van die aristokraat Francesco Saverio Melzi verbonde was. Hy het hier by Giovanni Battista Sammartini komposisielesse geneem en sy eerste opera Artaserse is in 1741 hier uitgevoer. Die opera is goed ontvang en dit het aan hom in die daaropvolgende jare gereeld opera opdragte uit verskillende Italiaanse stede, en in 1745 ook uit Londen, besorg. In Londen het hy ook kennis gemaak met Händel en sy musiek. Die jare ná 1746 het Gluck weer op die vasteland deurgebring, toe as kapelmeester van 'n rondreisende operageselskap.

Hy het in 1752 'n einde aan sy min of meer swerwende bestaan gemaak deurdat hy hom in Wene gevestig het. Hier het hy in 'n toenemende mate betrokke geraak by die musieklewe aan die hof, wat gelei het tot sy benoeming deur Maria Theresa tot hofkomponis. Hy is op 15 November 1787 in Wene oorlede. 


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search